Eko-minuut 13:30
BULLETIN 22 Mei 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, António Guterres, het gewaarsku dat die verlies aan bioverskeidenheid ‘n wêreldwye krisis is wat geen land kan ignoreer nie. Vandag is Internasionale Biologiese Verskeidenheidsdag met die tema Harmonie met die natuur en volhoubare ontwikkeling. ‘n Miljoen spesies staan gevaar om uitgewis te word terwyl menslike bedrywighede 75-persent van landelike ekostelsels en twee-derdes van mariene-omgewings verander het. Guterres sê die mens moet in harmonie met die natuur leef en sorg vir volhoubare ontwikkeling vir ‘n beter wêreld vir almal.
# Tropiese woude het verlede jaar teen ‘n rekordspoed verlore gegaan, hoofsaaklik weens bosbrande wat boerdery as grootste bedreiging verbygesteek het. Die Amasone waar dit baie droog was, het groot verliese gehad en 3,1-miljard ton koolstofdioksied is vrygestel. Terwyl Brasilië sukkel, toon Indonesië vordering met streng wetgewing teen brande. Kenners waarsku oor ʼn gevaarlike klimaatskringloop. Op die vooraand van COP30 word daar gesoek na finansiële hulp om woude te beskerm en toenemende ontbossing te bekamp.
# En ten slotte: Kenia is besig om sy renosterbewaring-veldtogte te versterk namate die bevolkings herstel. Die Keniaanse Natuurlewediens het ‘n weeklange oorkerf-operasie by Lewa-bewaring voltooi, waar 40 jong renosters gemerk is om monitering en beskerming te verbeter. Daarbenewens is 21 swartrenosters na Loisaba-bewaring hervestig om oorbevolking in bestaande reservate te verlig. Gevorderde tegnologie, insluitend termiese kameras en kunsmatige intelligensie, het die stryd teen stropery verbeter en bygedra tot ‘n beduidende afname in voorvalle. Kenia beoog om sy swartrenosterbevolking teen 2037 te verdubbel na twee-duisend.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….