Eko-minuut 13:30
BULLETIN 21 Mei 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, sê Suid-Afrika sal voortgaan om in die afsienbare toekoms steenkool as deel van sy energiemengsel te gebruik. Steenkool-kragstasies wek 85-persent van die land se elektrisiteit op, wat Suid-Afrika die grootste vrysteller van kweekhuisgasse in Afrika maak. Ramokgopa sê steenkool sal die energiestelsel se ruggraat bly, nie uit miskenning van klimaatsverpligtinge nie, maar weens ekonomiese en infrastruktuur-werklikhede. Hy sê hulle gebruik tegnologie om steenkoolkragstasies se vrystellings te bekamp.
# Die opvoedingsmaatskappy sonder winsbejag , Protec, wat fokus op die ontwikkeling van vaardighede in wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde, sê dié vaardighede is noodsaaklik om klimaatsverandering te beveg. Die organisasie sê Suid-Afrika het ‘n dringende behoefte aan omgewingswetenskaplikes, ingenieurs en hernubare energiespesialiste. Die uitvoerende hoof, Balan Moodley, sê die vaardighede sal die jeug help om die land se klimaatsuitdagings aan te pak. Protec doen ‘n beroep vir groter steun vir STEM-onderrig om toekomstige geslagte toe te rus om met volhoubare oplossings vir die land vorendag te kom.
# En ten slotte: Die vlak van die Wes-Kaap se grootste opgaardam, Theewaterskloof, is bestendig op 58,79-persent ondanks onlangse reënval. Die reën het die provinsie se opvanggebiede bestendig gelaat, maar nie damvlakke noemenswaardig verhoog nie. Die provinsie se watervoorsieningstelsel, wat meer as drie-miljoen inwoners bedien, is op 58,44-persent, effens laer as verlede week. Die hoof van die provinsiale Departement Water- en Sanitasie, Ntombizanele Bila-Mupariwa, waarsku dat klimaatsverandering en wisselvallige reën wat deur die El Niño- en die La Niña-weerverskynsels beïnvloed word, langtermyn-watersekerheid bedreig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….