Eko-Minuut 13:30
BULLETIN 20 Mei 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die Vaal Environmental Justice Alliance gaan Vrydag tydens ArcelorMittal se algemene jaarvergadering buite sy hoofkantoor in Vanderbijlpark, Gauteng, betoog. Die groep het die staalvervaardiger hof toe geneem oor sy weiering om dokumente bekend te maak wat verband hou met sy bedrywighede se omgewingsuitwerking. Mduduzi Tshabalala van die alliansie het aan eNCA gesê hulle is bekommerd oor die maatskappy se gebrek aan deursigtigheid wat die hantering van besoedeling betref:
# Die adjunkminister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Narend Singh, het Afrika-lande aangespoor om strategieë vir biodiversiteitsfinansiering te heroorweeg, aangesien meer geld nodig is om biodiversiteitsverlies teen 2030 te stop en om te keer. Afrika is die tuiste van meer as ‘n kwart van die wêreld se ongeskonde ekosisteme en ikoniese spesies. Singh waarsku dat die uitsterwingsbedreiging wat meer as seweduisend spesies regoor die vasteland in die gesig staar, Afrika se ekonomiese potensiaal ernstig kan ondermyn. Hy sê biodiversiteit is die grondslag van ekonomieë, gesondheid en oorlewing.
# En laastens: Drakebloed-bome wat slegs op Jemen se Socotra-eiland voorkom, word bedreig deur klimaatsverandering, indringer-bokke en voortslepende konflik. Die sambreelvormige bome wat noodsaaklik is vir die eiland se ekostelsel en toerisme, word vernietig deur toenemend erge siklone. Wetenskaplikes waarsku die bome kan sonder dringende ingryping, binne eeue verdwyn. Socotra, ‘n UNESCO-wêrelderfenisgebied, het meer as 825 unieke plantspesies en baie se oorlewing hang af van die drakebloed-boom.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….