Eko-minuut 13:30
BULLETIN 19 Mei 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die adjunkminister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Bernice Swarts, sal hierdie week die Oos-Kaapse Kleinskaalse Visserye-beraad in die Mthatha-stadion lei. Die beraad wil betrokkenheid tussen die regering en vissersgemeenskappe versterk, tegniese ondersteuning aan kleinskaalse visserykoöperasies bied, en mark- en infrastruktuuruitdagings bespreek. Die program sal uitstallings en tegniese besprekings insluit wat deur sektorkenners gelei word, en suksesvolle modelle van kleinskaalse visserye ten toon stel.
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê twee frontale stelsels word hierdie week oor die land verwag. ‘n Kouefront sal vandag die kus aan die suidwestelike deel van die land bereik, wat nat, koue en winderige toestande oor die westelike dele van die Wes-Kaap sal meebring. ‘n Weervoorspeller, Lehlohonolo Thobela, sê die nat en koue toestande sal môre versprei en die Namakwa-distrik van die Noord-Kaap, en die Oos-Kaap beïnvloed:
# En die Tara Ocean Foundation berig plastiekbesoedeling in die see het sedert die 1970’s vererger. Groot stukke afval soos visnette maak jaarliks meer as ‘n miljoen seevoëls en 100-duisend seediere dood. Minder sigbare mikroplastiek wat deesdae selfs in die diepste oseaan-trôe aangetref word, ontwrig mikrobiese gemeenskappe en dra gifstowwe oor aan voedselkettings. Die stigting sê minder enkelgebruikplastiek moet vervaardig word, plastiek artikels se lewensduur moet deur regulasies verleng word en hergebruik en herstelbaarheid moet aangemoedig word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….