Eko-minuut 13:30
BULLETIN 15 Mei 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die Kirstenbosch Nasionale Botaniese Tuine in Kaapstad het die New York Times se lys van die tien beste tuine ter wêreld gehaal. Die tuin teen die oostelike hange van Tafelberg vertoon Suid-Afrika se unieke plantegroei, insluitend die fynbos-bioom en eeu-oue broodbome. Die tuin is negende, net ná The High Line in New York, terwyl die Sissinghurst-kasteel in Cranbrook, Engeland, se tuin eerste op die lys is. Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, sê Kirstenbosch is ‘n nasionale skat.
# Die plastiekherwinningsorganisasie Polyco het met ‘n maatskappy sonder winsbejag, RLabs, saamgespan om Suid-Afrika se groen ekonomie deur mikro-herwinningsondernemings te ondersteun. Die vennootskap, met die rugsteun van 500-duisend-rand, sal noodsaaklike herwinningsinfrastruktuur verskaf. RLabs, wat in 24 lande bedrywig is, bemagtig gemeenskappe deur vaardigheidsopleiding en entrepreneurskap rakende afval. Lisl Doherty van Polyco sê die samewerking sal geleenthede in die herwinningsbedryf ontsluit:
# En ten slotte: Die skeepvaartbedryf vaar na ‘n toekoms met lae vrystellings ná die goedkeuring van die Internasionale Maritieme Organisasie se Netto-nul-raamwerk. Die teiken is om vrystellings teen 2030 met minstens 20-persent te verminder, teen 2040 met 70-persent en teen 2050 moet daar geen vrystellings wees nie. Belangrike maatreëls sluit ʼn wêreldwye brandstofstandaard in, asook ʼn prysmeganisme vir skepe wat die vrystellingsperke oorskry. Inkomste uit die skema sal laevrystelling-tegnologieë en ontwikkelende lande ondersteun. Die raamwerk sal in Oktober amptelik aanvaar word en teen 2027 verpligtend wees.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….