Eko-minuut 13:30
BULLETIN 14 Mei 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Boere reg oor Suid-Afrika pas vee aan by klimaatuiterstes deur versigtige teling, herskeppende praktyke en waterslim stelsels. Volgens die Journal of Animal Breeding verbeter die teling doeltreffendheid en veerkragtigheid. In Limpopo kruisteel telers inheemse skape vir veerkragtigheid, terwyl bokboere klem plaas op siekteweerstand en vleisopbrengs. In die Karoo verminder boere die grootte van kuddes en versprei hulle inkomste. In die Wes-Kaap verlaag stelsels wat skaduwee, sonkrag en verbeterde voeding kombineer waterverbruik, wat verseker dat vee in moeilike omstandighede floreer.
# Die ontwykende Boosmansbos-langstert-bosspitsmuis is die eerste keer in 46-jaar in die Wes-Kaap opgemerk. Omgewingsbewaarders van CapeNature het die ernstig-bedreigde soogdier ontdek. Die span het valhokke wat per helikopter vervoer word, gebruik om die klein diertjie van 13,7 gram te vang, op te teken en vry te laat. Die spitsmuis is die eerste keer in 1979 opgeteken en word slegs in die Boosmansbos-wildernisgebied aangetref. Verdere navorsing en genetiese ontleding sal gedoen word om sy status en ekologie te verstaan.
# En ten slotte: Die Internasionale Atoomenergie-agentskap sê terwyl kernkrag in Afrika uitbrei, ondersteun hy lande wat die nodige infrastruktuur ontwikkel vir veilige kernenergie. Suid-Afrika, wat die vasteland se enigste kernkragaanleg, Koeberg, bedryf, wil twee-duisend-500 megawatt nuwe vermoë byvoeg. Egipte bou sy eerste aanleg wat uit vier groot reaktors sal bestaan. Die agentskap sê lande soek skoon en betroubare oplossings vir hulle energie- en ontwikkelingsprobleme en oorweeg toenemend kernenergie as moontlikheid.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….