Eko-minuut 13:30
BULLETIN 13 Mei 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die Verenigde Nasies se Wêreldklimaatorganisasie waarsku Afrika ondervind toenemende klimaatbedreigings, insluitend dodelike oorstromings, uiterste hitte en voortdurende droogtes. Die vasteland het verlede jaar een van sy warmste jare beleef sedert 120-jaar gelede met rekord-houding begin is. Die organisasie sê oorstromings, hittegolwe en droogtes het verlede jaar meer as 700-duisend mense uit hulle huise gedwing. Malawi, Zambië en Zimbabwe het die ergste droogte in minstens 20-jaar gehad. Die organisasie sê die uitsonderlike weer- en klimaatsverandering word vererger deur hongersnood, onsekerheid en ontworteling op die vasteland.
# Byna tweederdes van gebiede in Latyns-Amerika en die Karibiese Eilande waar piesangs verbou word, gaan teen 2080 nie meer vir dié doel geskik wees nie. Dit is volgens Christian Aid se nuwe verslag: Going Bananas: How Climate Change Threatens the World’s Favourite Fruit. Piesangs is die wêreld se gewildste vrug en vierde belangrikste voedselgewas naas koring, rys en mielies. Volgens die verslag beïnvloed stygende temperature, uiterste weerstoestande en klimaatverwante plae lande soos Guatemala, Costa Rica en Colombië waar piesangs verbou word.
# En ten slotte: Die polisie het drie Chinese burgers op ‘n Japannese vakansie-eiland in hegtenis geneem nadat duisende lewende kluisenaarkrappe in verskeie tasse ontdek is. Die polisie sê ‘n hotelwerker op die Amami Oshima-eiland het omgewingsowerhede gewaarsku nadat hy ‘n geritsel in die tasse gehoor het. Die drie mans het personeel gevra om die tasse dop te hou. Beamptes het later die spiraalvormige kluisenaarkrappe in ses tasse gevind. Die polisie het aan CNN gesê die kluisenaarkrappe is nasionale natuurverskynsels in Japan vanweë hul kulturele en wetenskaplike waarde en word deur Japannese wetgewing beskerm.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….