Eko-minuut 13:30
BULLETIN 9 Mei 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die Krugerwildtuin is geskok oor die massavergiftiging wat tot die dood van 123 aasvoëls gelei het. Hulle het vermoedelik aan ’n vergiftigde olifantkarkas gevreet wat waarskynlik deur stropers met landbouchemikalieë behandel is. Die voëls sluit kritiek-bedreigde witrugaasvoëls, Kaapse aasvoëls en lappetgesig-aasvoëls in. Reddingspanne het daarin geslaag om 84 aasvoëls te red met noodbehandeling. SANParke en die Trust vir Bedreigde Natuurlewe beskryf dit as een van die ergste vergiftigings-voorvalle in die wildtuin se geskiedenis. Hulle beklemtoon ook die toenemende bedreiging vir Afrika se aasvoëlbevolkings.
# ‘n Nuwe wildreservaat is in die Oos-Kaap gestig ter versterking van bewaring en pogings om noodsaaklike habitat vir bedreigde spesies te herstel. Die Brad en Alice Andrews–reservaat, wat 682 hektaar beslaan, is strategies geleë binne die Boesmansrivier-bioverskeidenheidskorridor by die Tanglewood-bewaringsgebied. Die plan is daarop gemik om gefragmenteerde ekostelsels weer te verbind en die beweging van swart renosters en olifante reg oor die streek te vergemaklik.
# En ten slotte: Zambië se Ministerie van Toerisme het sy verbintenis tot die bekamping van stropery herbevestig deur die voortdurende Worth More Alive-veldtog. Dit is geskep na aanleiding van die bedreiging van wildsmokkelary, veral deur die land se internasionale lughawens. Dit sluit in die vestiging van ‘n wildstropery-hulplyn en die aanbring van lewensgrootte beeldhouwerke van bedreigde spesies op die Kenneth Kaunda-internasionale lughawe in Lusaka. Zambië se ikoniese en bedreigde natuurlewe, insluitend olifante, ietermagogge, renosters en groot katte, is ‘n integrale deel van die land se ekologiese balans.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….