Eko-minuut 13:30
BULLETIN 8 Mei 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die Wes-Kaapse regering tree op as gasheer vir die tweede jaarlikse vergadering van die Vennootskap vir Klimaat-optrede in Middelandse See-gebiede – ‘n internasionale alliansie van sub-nasionale regerings oor vyf vastelande met ‘n Mediterreense klimaat. Vyf van die wêreld se 36 bioverskeidenheids-brandpunte kom in gebiede met ‘n Mediterreense klimaat voor. Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, sê klimaatsverandering is nie net ‘n omgewingskwessie nie, maar ‘n fundamentele uitdaging wat elke lewensaspek raak, van gesondheid- en voedselstelsels tot ekonomiese bestendigheid en sekerheid wêreldwyd.
# Navorsers sê die wêreld se rykste 10-persent mense is sedert 1990 verantwoordelik vir twee derdes van aardverwarming. Die eerste studie wat die uitwerking van gekonsentreerde privaat rykdom op uiterste klimaatgebeurtenisse bepaal, het bevind dat die manier waarop die rykes verbruik en belê, die risiko van dodelike hittegolwe en droogtes aansienlik verhoog het. ’n Wetenskaplike van ETH Zürich, hoofskrywer Sarah Schoengart, sê hulle het die koolstofvoetspore van die rykstes regstreeks aan werklike klimaatgevolge gekoppel.
# En ten slotte: ’n Keniaanse hof het vier mans gevonnis tot ‘n jaar tronkstraf of ’n boete van 140-duisend-rand nadat hulle probeer het om duisende lewendige koninginmiere uit die land te smokkel. Die twee Belge, ’n Viëtnamese burger en ’n Keniaan is verlede maand in hegtenis geneem met lewende miere wat vermoedelik bestem was vir versamelaars in Europa en Asië. Die smokkelgoedere het reuse-Afrika oesmiere ingesluit, wat volgens sommige Britse handelaars tot vier-duisend-rand elk werd is. Miere in Kenia word beskerm deur internasionale bioverskeidenheids-verdrae en die handel daarmee word streng gereguleer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….