Eko-minuut 13:30
BULLETIN 6 Mei 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Wes-Kaapse damvlakke het tot onder 60-persent gedaal, met die ses groot damme saam nou op 59,7-persent. Dit is ‘n daling van die 60,7-persent verlede week en 62,1-persent in dieselfde tyd verlede jaar. Die provinsie se grootste dam, Theewaterskloof, staan op 60-persent en Voëlvlei op 58,5-persent. Dié daling is ondanks die onlangse koue weer en sneeu. Die Stad Kaapstad herinner inwoners aan die ‘Dag Zero’-krisis van 2017 en ’18 en spoor hulle aan om aan te hou om water te bespaar.
# ‘n Professor van die Universiteit van Johannesburg, Philiswa Nomngongo, span nanotegnologie in om waterbesoedelingstowwe op te spoor en te verwyder. Nanotegnologie bied instrumente soos sensors en membrane om gifstowwe op te spoor en te verwyder. Die Departement van Water en Sanitasie se Bloudruppel-oudit van 2023 het bevind dat 46-persent van die land se water besoedel is. Nomngongo se navorsing gebruik nanotegnologie om die probleme in verskillende bronne soos afvalwater en rivierwater uit te ken. Hoewel koste en aanpasbaarheid steeds uitdagings is, bied die tegnologie hoop vir landelike gebiede om toegang tot skoon water te kry.
# En die Wêreld-sonkragraad vra die dringende bespoediging van die toestaan van permitte, groter beleggings in slim netwerke en berging en verlaging in die koste van finansiering. Sonkrag het sedert 2015 nie net gehelp om meer as 2,4-miljard ton koolstofvrystellings te vermy nie, maar ook meer as 200-miljard liter water bespaar vergeleke met fossielbrandstof-opwekking. Die raad sê sonkrag sal die grootste enkele bron van kragopwekking wêreldwyd word, maar slegs as lande nou optree om ingewortelde hindernisse te oorkom.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….