Eko-minuut 13:30
BULLETIN 30 April 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die Internasionale Handelsadministrasiekommissie van Suid-Afrika gaan 82 tariefkodes hersien vir insette en materiaal wat in die hernubare- en bergingswaardeketting gebruik word. Dit sluit alles in van sonpanele en opwekkers vir windturbines tot litiumbatterye, en aluminium- en staalstrukture. Die hersiening volg nadat die kabinet onlangs die Hernubare-energiemeesterplan goedgekeur het. Dit sit die regering se planne uiteen om nywerheid- en vaardigheidsontwikkeling in die hernubare-energie- en batterybergingsektor te stimuleer.
# ‘n Nuwe studie toon slegs 9,5-persent van die 400-miljoen ton plastiek wêreldwyd het in 2022 van herwinde materiaal gekom. Die res is byna uitsluitend van fossielbrandstowwe soos steenkool en olie vervaardig. Herwinning bly laag met net 27,9-persent plastiekafval wat herwin word terwyl 40-persent op stortingsterreine beland. China is die grootste vervaardiger en verbruiker van plastiek, maar Amerikaners gebruik die meeste plastiek per kop. Die Internasionale Wetlik Bindende Instrument oor plastiekbesoedeling word na verwagting later vanjaar afgehandel.
# En laastens: Die Europese Ruimteagentskap het ʼn Biomass-satelliet, die eerste van sy soort, ontwerp om koolstofdioksied in tropiese woude te meet. Navorsers sukkel om te bepaal hoeveel koolstofdioksied in die wêreld se woude geberg word en hoe hierdie voorraad verander in reaksie op faktore soos ʼn toename in temperatuur. Tropiese woude neem 75-persent van die wêreld se koolstofdioksied op. Professor Mathew Williams van die Universiteit van Edinburgh het aan STV News gesê die satelliet is ontwerp vir ʼn sending van minstens vyf jaar:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….