Eko-minuut 13:30
BULLETIN 25 April 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die Departement van Water en Sanitasie het verdere beheerde water-uitvloei by die Vaalrivierstelsel ingestel. Twee bykomende sluise is oopgemaak met die Vaaldam wat tans 111-persent vol is. Intussen het die departement se woordvoerder, Wisane Mavasa, gewaarsku die uitvloei sal ook by die Bloemhofdam verhoog word met die dam wat byna 107-persent vol is. Mavasa sê oorvol damme, insluitend Grootdraai, Gariep en Vanderkloof, het vloedrisiko’s veroorsaak en inwoners naby vloedlyne word versoek om laagliggende gebiede te ontruim en te vermy.
# Suid-Afrika en Lesotho het ’n ooreenkoms van verstandhouding onderteken om twee keerdamme in die Mohokare-Caledonrivier te bou om doeltreffende waterbestuur te verseker. Die ooreenkoms, onderteken deur die minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodina, en Lesotho se minister van Natuurlike Hulpbronne, Mohlomi Moleko, sal Lesotho help met besproeiing regdeur die jaar. Die keerdamme sal ook help om afsakking in die Caledonrivier te verminder. Die ooreenkoms is onderteken tydens die bi-nasionale kommissie se vergadering in Maseru en versterk die bilaterale bande tussen die buurlande.
# En ten slotte: ‘n Nuwe verslag van die Verenigde Nasies waarsku inheemse mense wat minstens 80-persent van die wêreld se bio-verskeidenheid beskerm, word steeds van wêreldoptrede teen klimaatsverandering uitgesluit. Ondanks hulle omvattende kennis van die omgewing, ontvang hulle minder as een-persent van klimaatbefondsing en word dikwels van besluitneming uitgesluit. Data toon dat groen projekte soos mynbou en ontkoling inheemse grond beskadig. Die verslag vra wyer insluiting, befondsing wat inheems gelei word en respek vir tradisionele kennis in inheemse gemeenskappe.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….