Eko-minuut 13:30
BULLETIN 11 April 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# UNISA se waterkenner, Anja du Plessis, sê dit sal nie Suid-Afrika se waterbesoedelingskrisis oplos as munisipale bestuurders tronk toe gaan nie. ‘n Klousule in die Wysigingswetsontwerp op Nasionale Water laat toe dat munisipale bestuurders en korporatiewe direkteure skuldig bevind kan word en moontlik tronkstraf kry indien die instellings wat hulle verteenwoordig water besoedel. Volgens inligting stort ʼn derde van munisipaliteite onverwerkte riool in riviere en dit bedreig ekostelsels. Du Plessis sê strenger toepassing van omgewingswette is nodig om besoedeling te keer.
# Finansiële maatskappye waarsku dat klimaatsverandering toenemende risiko’s vir die wêreldekonomie inhou. ‘n Verslag deur die Potsdam-instituut vir Navorsing oor die Gevolge van Klimaatsverandering beraam dat rampe weens die klimaat teen 2049 jaarliks sowat 703-duisend-miljard-rand kan beloop. Versekeraars waarsku dat toenemende risiko’s sekere gebiede onversekerbaar maak, wat finansiële firmas kan destabiliseer en tot gevolg kan hê dat eiendomme nie gefinansier kan word nie. Hulle waarsku dat dit tot ‘n kredietkrisis kan lei, wat die bestendigheid van die finansiële sektor kan bedreig.
# En ten slotte: ’n Dieretuin in Engeland het die geboorte van ’n tweeling van kritiek bedreigde katoenkop-tamaryn-apies verwelkom. Die babas, wat op 3 April gebore is, is die derde stel nakomelinge vir ouers Gurt en Mico in die Marwell-dieretuin naby Winchester in Hampshire. Die spesie word kritiek bedreig, hoofsaaklik weens ontbossing, habitatvernietiging en onwettige troeteldierhandel in Colombië. Pasgebore kleintjies is ongeveer tien sentimeter lank van kop tot stert. Slegs omtrent twee-duisend van die volwasse diertjies bly nog oor in die natuur, beperk tot dele van noordwes-Colombië.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….