Eko-minuut 13:30
BULLETIN 7 April 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die Maselspoortdam naby Bloemfontein in die Vrystaat het ‘n gevaarlike vlak bereik ná swaar reën oornag. Die Mangaung-metro waarsku inwoners en ondernemings stroomaf van die Mockesdam in die Modderrivier om hul roerende bates na hoër grondgebied te verskuif. Woordvoerder Qondile Khedama het aanbeveel dat watervlakke gemonitor en voorberei word vir moontlike ontruiming. Inwoners moet ook versigtig wees vir bome en kragdrade wat omgeval het en motoriste word versoek om nie te ry deur gebiede wat verspoel is nie.
# Die Wes-Kaapse regering het planne bekendgemaak om elektriese vervoer vir openbare en privaat voertuie te integreer. Dis deel van die provinsiale regering se 2030 Klimaatsverandering-reaksiestrategie om die provinsie voor te berei op ‘n vinnige oorgang na elektriese vervoer. Die Wes-Kaapse vervoersektor dra 28-persent by tot koolstofvrystelling. Die LUR vir Beweeglikheid, Isaac Sileku, sê dis noodsaaklik om binnebrand-enjins met elektriese alternatiewe te vervang om openbare vervoervlote te moderniseer, dienslewering te verbeter, bedryfskoste te sny en afhanklikheid van fossielbrandstof te verminder.
# En ten slotte: Klimaatsverandering is besig om toerisme te verander en bedreig bestemmings soos die Maldives en die Groot Koraalrif in Australië. Volgens die Verenigde Nasies kan stygende seevlakke die grootste deel van die Maldives teen 2100 onder water laat, terwyl oseane wat warmer word koraalriwwe beskadig. Die veranderings sal na verwagting natuurlike besienswaardighede en plaaslike ekonomieë ontwrig, met toerisme wat daaronder ly. Bestemmings belê voortdurend in groen praktyke om ekostelsels te beskerm en gemeenskappe te onderhou wat van toerisme afhanklik is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….