Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 8 Januarie 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Frankryk gaan agt nuwe kernkragaanlegte bou, bykomend tot die ses wat president Emmanuel Macron vroeg in 2022 aangekondig het. Die land se minister van Energie, Agnès Pannier-Runacher, sê meer reaktors is nodig om koolstofverminderingsteikens te haal. ‘n Konsepwet wat binnekort ingedien sal word, erken die behoefte aan meer as die ses aanlegte wat aanvanklik beplan is. Volgens Climate Watch, is Frankryk se kweekhuisgas-vrystellings, in 2020 gemeet op sowat 4,7-ton per kapita, van die laagste in die EU. Die land het 57 kernreaktors wat die afgelope jare langdurige en duur herstelwerk nodig gehad het.
# Die owerhede sê ‘n misdaadsindikaat wat beplan het om onwettig honderde inheemse akkedisse uit Australië na Hongkong uit te voer, is oopgevlek. Die polisie in Nieu-Suid Wallis sê die reptiele se markwaarde word beraam op meer as 15-miljoen-rand. Drie mans en ‘n vrou is in Sydney in hegtenis geneem en aangekla van oortredings soos die uitvoer van inheemse reptiele, handeldryf met die opbrengs van misdaad en deelname aan ‘n misdaadgroep. Die polisie het beslag gelê op sowat 257 akkedisse en drie slange nadat hulle na bewering onder swak omstandighede aangehou is. Hulle is behandel en in die natuur vrygelaat.
# En laastens: ‘n Onlangse studie in die vaktydskrif, Nature Ecology and Evolution, het onthul dalende bevolkings onder roofdiere het ʼn aaneenskakelende uitwerking op hulle prooi en dit ontwrig die funksionering van die ekostelsel. Die skrywer van die studie, Phil Shaw, benadruk die verlies van groot roofvoëls, soos aasvoëls, het beduidende gevolge vir prooibevolkings en algemene biodiversiteit. Hy benadruk die langtermyn uitwerking op die omgewing en die gesondheid van die mens, aangesien aasdiere ʼn sleutelrol speel om die verspreiding van siektes te voorkom. Shaw is ten gunste daarvan om die beskermende gebiedsnetwerke te versterk en om die uitdagings ten opsigte van biodiversiteit aan te spreek.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….