Eko-minuut 13:30
BULLETIN 28 Maart 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Suid-Afrika se aankoopprogram van hernubare energie – eens ‘n model van sukses wêreldwyd – toon swakplekke, aldus Wikus Kruger van die Universiteit van Kaapstad. Hy skryf dit toe aan netwerkbeperkings, stadige verkrygingsiklusse en ingewortelde uitdagings wat vordering verhoed. Kruger sê die sesde bodgeleentheid het misluk weens netwerkbeperkings, terwyl die sewende geleentheid een-duisend-760-megawat sonkrag verseker het, hoewel ‘n bottelnek verhoed het dat kontrakte vir windkrag toegeken is. Hy sê dringende hervormings is nodig om die land se verkryging van hernubare energie reg te ruk.
# Die Stad Kaapstad se Water- en Sanitasiedirektoraat is besig om ‘n nuwe kontrakteur aan te stel om die opgradering van Fynbosdam in Majik-woud, Bellville, te voltooi. Die metro belê sowat 5,5-miljoen-rand in hierdie projek om die watervloei vanuit die dam deur die oorloopkanaal te verbeter. Die burgemeesterkomiteelid vir Water en Sanitasie, Zahid Badroodien, sê werk sal in April hervat word en sal na verwagting teen einde Junie voltooi sal wees.
# En ten slotte: Die nuwe JRC Advance-verslag oor veldbrande in Europa, die Midde-Ooste en Noord-Afrika toon dat Oekraïne in 2024 die ergste veldbrandseisoen in die geskiedenis van die Europese Unie se veldbrand-inligtingstelsel beleef het. Byna ‘n miljoen hektaar het in dié land afgebrand. Volgens die verslag kom die ruimtelike verspreiding van die brande ooreen met die oorlogsfront tussen Oekraïne en Rusland. Intussen was 2024 sedert 2017 ook die ergste veldbrandjaar in Portugal, waar 147-duisend hektaar afgebrand het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….