Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 24 Februarie 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens se lugvaartwebtuiste is weer aanlyn ná ‘n kuberaanval in Januarie wat die instelling se inligting- en kommunikasietegnologie-infrastruktuur geraak het. Die lugvaartbedryf het nou weer toegang tot noodsaaklike dienste soos belangrike internasionale weerkaarte, windkaarte, plaaslike en internasionale vlugdokumente en radarbeelde. Woordvoerder Oupa Segalwe sê ander produkte soos plaaslike weerkaarte en lugdrukkaarte ondergaan funksionaliteitstoetse en sal binnekort weer beskikbaar wees:
# Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, moedig die publiek aan om kommentaar te lewer op die voorgestelde regulasies vir die omgewingsbestuur van aflandige olieoordrag. Dit behels die voorsiening van brandstof vir gebruik deur skepe, insluitend die laai en verspreiding van brandstof tussen beskikbare opgaartenks. George sê die voorgestelde regulasies het ten doel om die hoë risiko te verminder van oordrag in die mariene-omgewing, wat veral die bedreigde Afrika-pikkewyn skade berokken. Hy voeg by die regulasies wil ook geraas beperk en natuurlewe-monitering aanmoedig.
# En ten slotte: ʼn Nuwe studie het bevind klimaatsverandering beïnvloed soutwaterkrokodille in Australië. Krokodille is koudbloedige diere wat op hul eksterne omgewing staatmaak om hul liggaamstemperatuur te beheer. Volgens ‘n studie in Current Biology, was 65-persent van die 203 krokodille wat ondersoek is, se liggaamstemperatuur minstens een keer hoër as die beperking van 32-grade. Een-en-veertig-persent se temperatuur was meer as 33-grade en 22-persent meer as 34-grade. Die opsteller, Kaitlin Barham, sê die krokodille wat waargeneem is, was minder aktief tydens die warmste periodes.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….