Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 19 Februarie 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die Suid-Afrikaanse Rooibosraad sê rooibos-boere in die Sederberge in die Wes-Kaap neem die voortou met pogings om ekostelsels te herstel, bedreigde spesies te beskerm en volhoubare boerdery te bevorder. Hulle werk daaraan om die Kaapse kuiperd te beskerm, die kritiek bedreigde Clanwilliam-sederbome te bewaar en die bewaring van grond en water te verbeter. Woordvoerder Marthane Swart sê samewerkende bewaringsprojekte soos die Groter Sederberg-bioverskeidenheidskorridor, help om ‘n balans tussen landbou en omgewingsbewaring te skep.
# Die Suid-Afrikaanse navorsingsboot SA Agulhas Twee is terug in Kaapstad na ‘n Antarktiese ekspedisie van twee maande. Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, het die skip se rol in omgewingswetenskap en volhoubaarheid geloof. Dis in 2012 in gebruik geneem en steun klimaats- en bioverskeidenheidsnavorsing terwyl mariene-kadette ook opgelei word. Die skip het onderweg na Kaapstad in Oos-Londen vasgemeer vir ‘n ope dag waartydens drie-duisend besoekers verwelkom is. Die minister sê die projek wil toekomstige wetenskaplikes lok en Suid-Afrika se leierskap in pool-navorsing versterk.
# En ten slotte: Die Universiteit van Suid-Afrika sê hy is daartoe verbind om die toepassing van die Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte te bevorder en dit sluit in die uitskakeling van vullis en plastiek wat net een keer gebruik word. Minder as tien-persent van die sewe-miljard ton plastiek afval wat wêreldwyd gestort word, word herwin. Unisa sê sy bestuurskomitee het die gebruik van plastiek wat net een keer gebruik word, op die kampus verbied. Hy sê die komitee het ook ingestem dat spysenieringsdienste nie plastiek of polistireen-houers op die kampus mag gebruik nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….