Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 13 Februarie 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, sê sy departement gee voorkeur aan hernubare energieprojekte soos son-, wind- en hidrokrag. Die minister het die goedkeuringsprosesse van hierdie soort projekte meer vaartbelyn gemaak. Dit sluit sonkrag- en battery-aanlegte uit van omgewingsgoedkeuring in sensitiewe gebiede. Elf hernubare energiesones en vyf transmissie-roetes vir groenenergieprojekte is ook geïdentifiseer. George sê die Groenwaterstof-riglyn word volgende week bekendgestel om die land se energie-oorgang te bevorder.
# Wetenskaplikes het onrusbarende vlakke van besoedeling ontdek in die diepste punt van die Middellandse See, Calypso Deep in die westelike deel van die Helleense Trog. Hulle het 167 stukke afval met behulp van ‘n onderwatervoertuig opgespoor, insluitend plastiekbottels, koffiebekers en sakke. Die wetenskaplikes sê die bevindings is ‘n sterk betoog ten gunste van die dringende instelling van beleidsoptrede op wêreldwye skaal om rommelstrooiing te verminder en sodoende die bewaring van unieke mariene-habitatte te vergemaklik.
# En ten slotte: Wetenskaplikes waarsku dat klimaatverandering vinnig besig is om ‘n groot bedreiging vir die produksie van kakao te word. Uitsonderlik hoë temperature is in Wes-Afrika aangeteken waar 70-persent van die wêreld se kakao verbou word. Dit het misoeste veroorsaak en die afgelope twee maande kakaopryse tot nuwe rekords opgestoot. Die organisasie Climate Central sê stygende temperature het drie weke se erge hitte oor die Ivoorkus en Ghana veroorsaak. Ander bedreigings sluit in siektes, sporadiese reënval en onwettige mynbedrywighede. Kenners sê kakao-boerdery kan vernietig word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….