Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 12 Februarie 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Omgewingsbewustes waarsku oor die hoë koste as die Stad Kaapstad voortgaan met sy ontsoutingsaanleg van vyf-miljard-rand in Paardeneiland. Die aanleg sal watervoorsiening met tot 70-miljoen liter water per dag aanvul. Kenners sê egter die bykomende kostes, besoedelingsgevaar en sout wat vrygestel word, kan die seelewe beïnvloed. Die metro, wat besig is met sy uitvoerbaarheidstudie vir die aanleg, hou egter vol dat die projek wêreldwye beste praktyk volg. Die publiek kan tot 3 Maart kommentaar lewer.
# Klimaatsverandering benadeel mense wat mopaniewurms in Botswana oes. Voortslepende droogtes en uiterste temperature het die wurmbevolking skerp laat daal, wat tot kleiner oeste lei. Mopaniewurms, wat ‘n belangrike bron van proteïene en ʼn vaste inkomste is, is nou skaars. Ten spyte van regeringspermitte het mense te veel wurms geoes, wat die situasie vererger. Omgewingsbewustes vra strenger bewaringspogings om hierdie noodsaaklike bron te beskerm.
# En ten slotte: Die Verenigde Nasies se Klimaatsveranderingsliggaam vra lande om hulle nuwe klimaatsteikens teen September in te dien. Dit volg nadat China, Indië en die Europese Unie, wat van die grootste besoedelaars is, die spertyd misgeloop het. Lande moet ingevolge die Paryse Klimaatsooreenkoms van 2015 elke vyf jaar omvattende planne voorlê, met duidelike teikens vir die uitsny van koolstofvrystellings, of in die geval van armer lande, die vermindering daarvan. Simon Stiell van die VN sê die G20-groep is verantwoordelik vir 80-persent van globale vrystellings:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….