Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 11 Februarie 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# ’n Aardbewing van 5,3 het die Griekse eiland Santorini getref, die sterkste nog van die tallose skuddings wat duisende genoop het om te vlug. Dit is twee uur later gevolg deur nog ‘n skudding van 5,0. Volgens die Universiteit van Athene is bykans 13-duisend skuddings tussen 26 Januarie en 8 Februarie aangeteken. Die skuddings verstom wetenskaplikes wat sê die streek het nog nie seismiese bedrywighede op hierdie skaal ervaar vandat opnames in 1964 aangeteken word nie. Santorini lê bo-op ‘n dormante vulkaan wat laas in 1950 uitgebars het.
# Die Korrupsiewaarnemings-aanwyser vir 2024 toon korrupsie is ineengestrengel met klimaatsverandering. Die aanwyser rangskik 180 lande en gebiede wêreldwyd volgens die vlakke van korrupsie wat in die openbare sektor waargeneem is. Volgens Transparency International belemmer korrupsie vordering met die vermindering van uitstralings en aanpassing by die onvermydelike gevolge van aardverwarming. Lande met ‘n hoë telling beskik oor die hulpbronne en mag om korrupsiebestande klimaatsoptrede wêreldwyd aan te vuur, maar dien dikwels die belange van fossielbrandstof-maatskappye.
# En die hoof van die Green Climate-fonds, Mafalda Duarte, vra lande om klimaatsfinansiering vir ontwikkelende lande voort te sit. Dit is ondanks Amerika se onttrekking van byna 73,8-miljard-rand se befondsing. Die onttrekking, onderhewig aan die Kongres se goedkeuringskwessies, is in skrille kontras met bydraes van Duitsland, die Verenigde Koninkryk en Japan. Hoewel hernubare energieprojekte alternatiewe befondsing kan vind, ondervind klimaatveerkragtigheidspogings ‘n groot terugslag. Die fonds sal na verwagting vanjaar sowat 55-miljard-rand se projekte goedkeur.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….