Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 Februarie 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# President Cyril Ramaphosa sê die regering bou steeds suksesvolle multilaterale vennootskappe in die globale poging om die verwoestende uitwerking van klimaatsverandering teen te werk. Hy het in sy staatsrede gesê die land se Billike Energie-oorgang bou stoom op. Ramaphosa sê die oorgangsplan sal Suid-Afrika se oorgang tot ‘n lae koolstof-ekonomie rig, deur die vermeerdering van hernubare energiebronne en die vermindering van afhanklikheid van steenkool:
# Nuwe data toon verlede maand was die warmste Januarie op rekord. Syfers deur die Europese Copernicus-klimaatsdiens toon gemiddelde temperature regoor die wêreld was in Januarie 1,75-grade Celsius warmer as voor kweekhuisgasvrystellings aansienlik begin toeneem het tydens die nywerheidsrevolusie sowat 150 jaar gelede. Dit is 0,1-graad Celsius bo die rekord wat verlede Januarie opgestel is. ‘n Klimaatswetenskaplike aan die Imperial-kollege in Londen, Friederike Otto, waarsku die veldbrande by Los Angeles is ‘n skerp herinnering dat die wêreld reeds ‘n ongelooflik gevaarlike vlak van verwarming bereik het.
# En Australiese wetenskaplikes het die wêreld se eerste kangaroe-embrio deur in vitro-bevrugting geskep in ‘n deurbraak wat volgens hulle kan bydra om ander spesies van uitwissing te red. Navorsers het met selle van die oostelike grys kangaroe ‘n enkele spermsel suksesvol in ‘n eiersel ingespuit, maar meen ‘n lewende geboorte sal meer werk vereis. Die prestasie verskaf belangrike insigte oor die aanteel van buideldiere en kan bydra om die genetiese verskeidenheid van bedreigde spesies te verbeter. Australië huisves die grootste verskeidenheid buideldiere, maar het ook die hoogste koers van soogdiere wat uitsterf.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….