Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 6 Februarie 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Gauteng se natuurreservate ondervind ‘n toenemende brandgevaar te midde van die skorsing van twee junior werknemers in 2022. Hulle afwesigheid het brandbestuurspogings vertraag, insluitend die onderhoud van voorbrande, en dit kos belastingbetalers 1,3-miljoen-rand. Die Gautengse LUR vir Omgewingsake, Shyla Peters, erken die skorsings het sleutelprojekte vertraag. Kenners waarsku dat klimaatsverandering die brandgevaar verhoog wat pro-aktiewe brandvoorkomingsbestuur noodsaaklik maak vir die beskerming van natuurreservate, gemeenskappe en infrastruktuur.
# Klimaatsverandering raak berggemeenskappe op die ewenaargebied in Afrika meer as wat geglo is. Dit is volgens ‘n nuwe studie van navorsers aan die Universiteit van York. Sowat 288-miljoen mense woon in Afrika se bergstreke. Die navorsing het bevind dat boere in lande soos Kameroen, Rwanda, Tanzanië en Burundi verhoogde temperature, minder miswolke, veranderings in reënval en ‘n toename in uiterste klimaat aangemeld het. Professor Rob Marchant sê die studie benadruk die dringende behoefte aan plaaslike aanpassingstrategieë om die maatskaplik-ekologiese en ekonomiese uitwerking op gemeenskappe te verminder.
# En ten slotte: Nog ‘n klomp aardbewings het die Griekse toeriste-eiland Santorini getref. Die aardbewings vorm deel van ‘n ongekende seismiese golf wat wetenskaplikes verstom en gelei het tot die massa-uittog van inwoners. Sewe agtereenvolgende skuddings met metings van meer as 4 in omvang is vroegoggend aangeteken. Dit volg nadat ‘n aardbewing van 5,2, die sterkste sedert die naweek, gisteraand aangeteken is. Kenners kon tot dusver nie ‘n presiese skatting gee oor wanneer die seismiese bedrywighede sal eindig nie, maar beklemtoon dit is uiters ongewoon.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….