Eko-minuut 13:30
BULLETIN 3 Februarie 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# ‘n Nuwe studie deur Nature Climate Change het onthul dat seewierplase dalk ʼn oplossing kan wees om koolstof te berg en klimaatsverandering te bekamp. Hierdie plase neem koolstof op uit seewater en berg dit op die seebodem, wat nabygeleë koolstofberging verdubbel. Die studie het ook bevind seewierplase begrawe koolstof teen soortgelyke koerse as wortelbome en seegrasse, en ouer en groter seewierplase berg meer koolstof. Navorsers glo indien dit wêreldwyd uitgebrei word, kan seewierplase teen 2050 jaarliks tot 140-miljoen ton koolstofdioksied uit die atmosfeer verwyder.
# Die regering het ʼn proefprojek vir die herwinning van e-afval in die Bosbokrand-munisipaliteit in Mpumalanga bekendgestel om besoedeling en onwettige storting te takel. Sensus 2022 toon 72,1-persent huishoudings in die munisipaliteit stort hul vullis onwettig op oop persele. Die adjunkminister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Bernice Swarts, sê nywerheids- en vervaardigingsorganisasies sal saam met plaaslike ondernemings en die munisipaliteit werk. Die doelwit is om versamelpunte op te rig en infrastruktuur soos dromme te voorsien om e-afval afsonderlik te versamel en die projek se volhoubaarheid te verseker.
# En laastens: Die wêreld se grootste banke maak vordering om kwessies oor klimaatsverandering te takel. Die finansieringskoers vir lae-koolstof-energie het in 2023 effens gestyg van 0,89 tot een, maar is ver onder die netto-nul-teiken van vier tot een teen 2030. Dit is volgens die jongste BloombergNEF-data. Chinese banke oorheers die steenkoolbefondsing en onderskryf 66-persent van die geld wat in 2023 na dié sektor gegaan het. Amerika was tweede, gevolg deur Pakistan en Singapoer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….