Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 23 Januarie 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Kenners waarsku die dodelike veldbrande in Los Angeles kan ook in Kaapstad voorkom omdat dit ‘n soortgelyke klimaat, bergagtige topografie en plantegroei het. Die metro se Brand- en Reddingsdiens sê daar was in die 2023/’24-boekjaar meer as seweduisend brande. Elders in die Wes-Kaap het die brande by Knysna in 2017 gelei tot die dood van 12 mense, insluitend twee brandbestryders, en die verlies van eenduisend-444 huise. Die voorsitter van die Kaapse Skiereilandse Brandbeskermingsvereniging, Philip Prins, het aan Moneyweb gesê daar is ‘n behoefte dat brandpaaie onderhou en indringerplante verwyder word.
Meer as 30-duisend mense is intussen aangesê om hul huise noord van Los Angeles te verlaat nadat ‘n nuwe veldbrand in Kalifornië uitgebreek het. Nog 25-duisend mense woon in sones wat ontruimingswaarskuwings ontvang het. Die jongste brand, genaamd die Hughes-brand, het gisteroggend naby die Castaic-meer ontstaan, sowat 60 kilometer van die Eaton- en Palisades-veldbrande wat dele van L-A vroeër die maand verwoes het. Die Amerikaanse staat se Departement van Bosbou en Brandbeskerming sê die brand is tans 14-persent onder beheer.
# En ten slotte: Dertien nuwe nywerheidsgroepe van lande soos Indië, Brasilië en die Verenigde Koninkryk het by die Wêreld-ekonomiese Forum se Oorgangs-nywerheidsgroepering aangesluit. Die program het ten doel om koolstofdioksied-uitstralings te verminder, ekonomiese groei aan te vuur en indiensneming te verbeter. Die 33 deelnemende groepe van 16 lande verteenwoordig 832-miljoen ton se potensiële kweekhuisgas-verminderings. Leiers van die forum beklemtoon samewerking tussen nywerhede en geografiese gebiede is die sleutel tot die versnelling van die oorgang na skoon energie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….