Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 21 Januarie 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# President Donald Trump het die tweede keer ‘n uitvoerende bevel onderteken om Amerika aan die Paryse Klimaatsooreenkoms te onttrek. Dit volg nadat die wêreldtemperature verlede jaar die eerste keer in ʼn kalenderjaar met meer as 1,5-grade Celsius gestyg het bo temperature voor die nywerheidsera. Amerika is nou saam met Iran, Jemen en Libië nie deel van die ooreenkoms nie. Trump beskryf die ooreenkoms as ʼn onregverdige, eensydige bedrogspul:
# Die Verenigde Nasies se Omgewingsprogram sê die kitsmode-bedryf is die tweede grootste waterverbruiker en verantwoordelik vir ongeveer tien-persent van die wêreld se koolstofvrystellings. Die term “kitsmode” verwys na klere wat vinnig en goedkoop vervaardig word en die jongste loopplank-modes naboots. Die VN sê die bedryf laat waterbronne opdroog en besoedel riviere en strome terwyl 85-persent van alle tekstiel jaarliks op die vullishoop beland. Volgens die VN se Raamwerkkonvensie oor Klimaatsverandering sal vrystellings net uit tekstielvervaardiging teen 2030 met 60-persent opskiet.
# En ten slotte: Personeel van ‘n Japannese akwarium het met ‘n vindingryke manier vorendag gekom om ‘n eensame sonvis op te beur. Die vis het verlede maand siek geword toe die Kaikyokan-akwarium in Shimonoseki vir opknappingswerk gesluit is. Volgens personeel is hierdie spesifieke sonvis nuuskierig en sou hy tot voor in sy tenk swem wanneer daar besoekers was. Die vis het ‘n dramatiese verbetering getoon nadat karton-gesigte en akwarium-uniforms op hangers aan die glas van sy tenk vasgeplak is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….