Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 14 Januarie 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Amptenare in Los Angeles sê die stad is besig met dringende voorbereidings ná die Amerikaanse weerdiens se waarskuwings oor winde na aan orkaansterkte vir die gebied. Drie wegholbrande woed steeds in die stad, waarvan net 14-persent van die grootste – die Palisades-brand – sover in bedwang is. Bykans 24 mense is reeds in die brande dood en 23 word vermis. Die stad se brandweerhoof, Anthony Marrone, sê hulle is beter voorbereid vir die weersverskynsel:
# Die Stad Tshwane sê sy proefprojek om gekerfde tuinvullis by vyf van sy tuinoordragfasiliteite te herlei, help om druk op sy stortingsterreine te verlig. Die projek herlei tans sowat 29-duisend-897 ton gekerfde materiaal per jaar na privaat komposmaatskappye. Die metro se woordvoerder, Lindela Mashigo, sê hulle wil die projek uitbrei na die vier ander tuinvullispersele in Tshwane:
# Die bedreigde Persiese Luiperd is in Kazakstan opgemerk, ‘n seldsame waarneming in die Sentraal-Asiatiese land, waar die kat se teenwoordigheid nog nie voorheen aangeteken is nie. Daar is net sowat een-duisend Persiese Luiperds in die wêreld oor. Dit staan ook bekend as die Kaukasiese of Anatoliese Luiperd wat in Kaukasië, Turkye, Iran, Irak en sommige Sentraal-Asiatiese lande aangetref word. Dit word volgens die Rooilys van Bedreigde Spesies van die Internasionale Unie vir Natuurbewaring as “bedreig” beskou.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….