Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 2 Januarie 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Eskom sê die sinchronisering van die Kusile-kragstasie se Eenheid-vyf, wat nie voorheen deel van Eskom se netwerkkapasiteit was nie, sal ‘n bykomende 800 megawatt tot die land se kragstelsel bydra. Die eenheid is Saterdagaand vir die eerste keer met die nasionale netwerk gesinchroniseer. Die Eskom-woordvoerder, Daphne Mokwena, sê dié eenheid sal oor die volgende ses maande tydens die toets- en optimaliseringsfase af en toe elektrisiteit verskaf voordat dit in volle bedryf geplaas word en die kapasiteit amptelik by die bestaande Eskom-kragverskaffingsnetwerk gevoeg word:
# ‘n Baanbreker-navorsingstudie deur die wetenskaplikes, William van Wijngaarden en William Happer, het ondersoek ingestel na die belangrike bydrae van waterdamp tot klimaatsverandering. Hulle verhandeling kyk na hoe waterdamp met hoogte bo seevlak afneem en beklemtoon die konsep van versadiging in die atmosfeer. Die navorsers voer aan dat hierdie faktore grootliks geïgnoreer word in besprekings oor kweekhuisgasse en klimaatsverandering. Hulle voer aan dat waterdamp, met sy vermoë om te dryf en sy rol in die oordrag van hitte deur middel van konveksie, die belangrikste kweekhuisgas in die troposfeer is.
# En laastens: Navorsers in Kenia het die belangrike rol van klimaatsverandering in die malariakrisis in dele van die land aangetoon. ‘n Wetenskaplike by die Internasionale Vee-navorsingsinstituut, James Akoko, wys op die toenemende impak van klimaatsverandering op siekte-oordragpatrone. Akoko verduidelik dat die skepping van ‘n weerstasie in die droogte geteisterde Isiolo-gebied verskeie omgewingstoestande sal monitor en die verhouding tussen klimaatsaspekte, bevolkings en siekte-tendense ontleed.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….