Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 Januarie 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die Stad Kaapstad hou vol dat die watergehalte op sy strande deurlopend hoog is. Dit is ondanks bewerings deur die gemeenskapsgroep Bays of Sewage en navorsers aan die Universiteit Stellenbosch wat hoë E. coli- en entercocci-vlakke op sommige strande gevind het. Die metro sê ‘n onafhanklike laboratorium se toetse op 297 monsters het getoon die watergehalte is binne die veilige perk. Hy sê die enterococci-tellings is die internasionaal aanvaarbare goue standaard vir die gehalte van water aan die kus ten opsigte van mense se gesondheid.
# Amerikaanse president Joe Biden het boorwerk oor ‘n baie groot gebied langs die kus verbied, weke voor Donald Trump oorneem en onderneem het om die produksie van fossielbrandstowwe te verhoog. Die verbod beslaan die hele Atlantiese kus en die oostelike Golf van Mexiko, sowel as die kus van Kalifornië, Oregon en Washington aan die Stille Oseaan asook ‘n gedeelte van die Beringsee by Alaska. Die Withuis sê in ‘n verklaring meer as 253-miljoen-hektaar water word beskerm. Trump het in reaksie gesê hy sal die verbod omkeer.
# En laastens: Minstens vyf mense is dood in ʼn winterstorm wat swaar sneeu, ys, sterk wind en temperature onder vriespunt in dele van Amerika veroorsaak het. Noodtoestande is in Maryland, Virginië, Wes-Virginië, Kansas, Missouri, Kentucky en Arkansas afgekondig. Die storm het veroorsaak dat skole moes sluit, kragonderbrekings voorkom en meer as tweeduisend vlugte gekanselleer is. The Guardian berig die ysige weer word toegeskryf aan versteurings in die pool-vorteks wat ʼn groot, driedimensionele sirkel sterk winde is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….