Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 12 Desember 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die Wêreld Meteorologiese Organisasie waarsku oor ’n moontlikheid van 55-persent dat La Niña-toestande tussen dié maand en Februarie kan ontwikkel. Dit verwys na die grootskaalse daling in die oseaan se oppervlak-temperature. Die organisasie se sekretaris-generaal, Celeste Saulo, sê selfs indien La Niña-toestande ontwikkel, sal die korttermyn afkoeling se uitwerking te min wees om die verwarming weens vasgekeerde kweekhuisgasse in die atmosfeer teen te werk. Die vorige voorspelling in September het ’n 60-persent kans vir La Niña-toestande in Desember tot Februarie verwag.
# Navorsers waarsku klimaatsgevare kan korporatiewe verdienste teen 2035 jaarliks met sewe-persent verminder. ‘n Verslag deur die Wêreld Ekonomiese Forum moedig ondernemings aan om hierdie gevare met ontkoling en veerkragtigheidstrategieë teen te werk. Die verslag toon dat sektore soos energie en telekommunikasie toenemend kwesbaar is. Groen markte sal egter na verwagting teen 2030 tot 248-duisend-miljard-rand groei, wat aansienlike geleenthede sal bied vir vroeë volhoubare oplossings. Die forum beklemtoon optrede om ekonomiese en omgewingsbestendigheid te verseker.
# En ten slotte: ’n Boggelrugwalvis het een van die langste en ongewoonste migrasies voltooi wat nog aangeteken is. Dit is die eerste keer in 2017 in die Stille Oseaan naby Colombië opgemerk en is nou by Zanzibar in die Indiese Oseaan waargeneem, ‘n afstand van minstens 13-duisend kilometer. Kenners glo hierdie epiese reis is dalk te wyte aan klimaatsverandering wat die voedselvoorraad uitput of dalk ‘n swerftog om ‘n maat te vind. Boggelrugwalvisse leef in alle oseane regoor die wêreld en het een van die langste migrasies van enige soogdier.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….