Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 10 Desember 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die Suid-Afrikaanse Reserwebank sê klimaatsverandering hou ekonomiese en maatskaplike risiko’s in vir die werking van die finansiële stelsel. Die bank se adjunkpresident, Fundi Tshazibana, sê sentrale banke het ‘n verantwoordelikheid om toe te sien dat finansiële stelsels klimaatverwante skokke kan oorkom en bestuur. Tshazibane sê die bank werk daaraan om te verseker finansiële instellings en markte neem klimaatsverwante risiko’s in ag. Sy sê hulle probeer ook agterkom wat die uitwerking van klimaatsverandering op inflasie en finansiële bestendigheid is en tree op teen die gevare.
# Die Universiteit van die Witwatersrand het ‘n vennootskap van 2,6-miljard-rand aangegaan met vyf universiteite, insluitend Imperial College London, om die Rio Tinto-sentrum vir Toekomsmateriale te vorm. Die sentrum sal die ontwikkeling van nuwe volhoubare tegnieke en tegnologieë versnel om materiale te verskaf wat nodig is vir ‘n billike energieoordrag. Die sentrum se eerste uitdaging is om die struikelblokke in elektrifisering en die koper-uitdaging te oorkom. Wits sê daar is ‘n behoefte om die koper-vraag te verminder en die volhoubaarste manier te bepaal om dit te ontgin.
# En ten slotte: Navorsers van die Universiteit van Johannesburg het bevind die Wes-Randse distriksmunisipaliteit ondervind uitdagings om klimaatsverandering te takel. ‘n Verslag toon gapings in uitlatingsmonitering, befondsing en beplanning. Ondanks die plaaslike owerheid se ligging waar daar hoë uitlatings deur mynbou en vervoer is, lyk dit asof daar nie ‘n klimaat-aksieplan of verminderingsteikens is nie. Amptenare sê daar is onvoldoende hulpbronne en beleidsrigtings wat nie ooreenstem nie. Die navorsers se aanbevelings sluit in die verbetering van data-insameling en aandag aan klimaatsbrandpunte.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….