Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 4 Desember 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# ’n Aardbewing van 4,2 is gisteraand laat naby Springbok in die Namakwa-distriksmunisipaliteit in die Noord-Kaap aangeteken. Die Europees-Mediterreense Seismologiese Sentrum het die aardbewing op ‘n diepte van tien kilometer aangemeld. Seismoloë hersien die data, aangesien verslae van ander agentskappe beskikbaar word. Daar was geen onmiddellike berigte van skade of beserings nie.
# Mpumalanga lei ‘n klimaatslim-boerderyprojek in ʼn poging om die uitwerking van klimaatsverandering op landbou te bekamp. Dit fokus op die gebruik van tegnologie om volhoubare boerderypraktyke te bevorder. Dit sluit opleiding in om digitale instrumente te gebruik om klimaatsprobleme te verwag, voedselsekerheid te verseker en samewerking tussen die regering en munisipaliteite aan te moedig. Kenners sê uiterste hitte maak grond minder geskik vir gewasse en hou ʼn groot bedreiging in vir lewende hawe.
# En vandag is Wêreldnatuurlewebewaringsdag, wat toegespits is op bewusmaking en die bevordering van optrede vir die beskerming en behoud van die natuur. Daar is tans meer as 166-duisend spesies op die rooilys van die Internasionale Natuurbewaringsunie, met meer as 46-duisend-300 spesies wat deur uitwissing bedreig word. Javaanse renosters is die mees kritiek-bedreigde spesie. Mense word aangemoedig om nie onwettige natuurleweprodukte te koop nie, soos ivoor, om hulleself te vergewis van natuurlewemisdaad en bedreigde spesies, en skenkings te doen aan ‘n bewaringsgroep of natuurlewevereniging.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….