Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 3 Desember 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Wyksraadslede in Centurion het met die Pretoriase Dieretuin hande gevat om boomtakke wat gesnoei is in te samel. Dit het ten doel om afval te verminder en volhoubare voedsel aan planteters te voorsien. Die projek bevorder ook ‘n skoon omgewing en ondersteun die dieretuin se bewaringspogings. Die woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Bioverskeidenheids-instituut, Nontsikelelo Mpulo, sê die projek kan die diëte van diere in die dieretuin beduidend verbeter. Mpulo sê die spesifieke boomspesies wat gebruik word sluit in witstinkhout, doring, karee, boswilger, moerbei, die skoenlapper-orgidee en die blinkblaar wag-‘n-bietjie.
# Thailand stuur bykans ‘n duisend hoogs bedreigde skilpaaie en lemurs huis toe na Madagaskar, in ‘n geskiedkundige oorwinning oor dieresmokkelary. Volgens Thaise amptenare is die repatriasie die grootste nog tussen die twee lande. Die polisie het die diere in Mei tydens ‘n operasie teen smokkelhandel in die suidelike provinsie, Chumphon, teruggekry. Onder hulle was verskillende spesies skilpaaie en lemurs, almal op die lys van die wêreld se mees bedreigde diere. Altesaam 961 diere sal vanaf Saterdag op drie vlugte van Qatar Airways teruggestuur word.
# En navorsers aan Litause en Sweedse universiteite het Forest 4.0 ontwikkel wat kunsmatige intelligensie, groot data en blokketting gebruik om woude beter te bestuur. Die stelsel stel mense in staat om toestande in woude deurentyd te monitor. Blokketting-tegnologie beveilig nasporing- en sertifiseringsinligting wat toestelle soos hommeltuie en sensors help met volhoubare oesprosesse, brandbestuur en monitering van die natuurlewe. Navorsers sê die doel is om ‘n datagedrewe, deursigtige benadering tot woudbewaring te skep, te help om ontbossing te bekamp en belangrike ekostelsels te beskerm.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….