Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 28 November 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die Stad Kaapstad is aanvaar as ‘n lid van die Internasionale Natuurbewaringsunie in die Regeringslidmaatskapkategorie. Die unie het tans meer as eenduisend-400 lede uit regeringsgeledere en die burgerlike samelewing, ondersteun deur belangrike internasionale belanghebbendes soos die Verenigde Nasies, die Europese Kommissie en die Groen Klimaatfonds. Die onderburgemeester, Eddie Andrews, sê die unie kan die metro bystaan om sy wêreldberoemde bioverskeidenheid te beskerm, saam te werk aan oplossings vir stedelike omgewings en een van die vooraanstaande omgewingsvriendelike stede te word.
# Die Vaaldam se watervlak het binne elf weke met 15,5-persentasiepunte gedaal en staan nou op 30,8-persent. Volgens die waterkenner, Carin Bosman, is die daling binne die normale grense wat verwag word weens die lae reënval, verdamping en verbruik. Die huidige vlakke is nie kommerwekkend nie, maar Bosman waarsku probleme kan ontstaan indien Desember se reënval laat is. The Citizen berig water sal uit die Sterkfonteindam gebruik word as die vlak tot 18-persent daal. Inwoners word aangeraai om water te spaar.
# En die Sentrum vir Internasionale Omgewingsreg sê die wêreld kan eenvoudig nie meer bekostig om nog plastiek te vervaardig as ‘n manier om sy afhanklikheid van fossielbrandstof voort te sit nie. Meer as 99-persent van plastiek word van chemikalieë gemaak wat van fossielbrandstowwe kom. Meer as 75-persent van alle kweekhuisgasuitlatings kom van fossielbrandstowwe. Daniela Duran Gonzalez van die sentrum sê die bou van nuwe plastiekproduksie-aanlegte moet stopgesit word, want plastiekmarkte is reeds oorvoorsien.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….