Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 27 November 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die Stad Kaapstad se jaarlikse binnelandse watergehalteverslag onthul dat verskeie riviere, vleilande en ander waterliggame besmet is met E.coli, vaste afval en, in sommige gevalle, oormatige voedingstowwe. Die verslag dek die tydperk van 1 Oktober 2021 tot 30 September 2023. Die metro sê rioolbesmetting bly ‘n ernstige bron van kommer, veral in opvanggebiede wat redelik dikwels rioolstortings ondervind. Hy sê twee-miljard-rand is net in die 2024/’25-boekjaar toegeken vir die opgradering van watersuiweringsaanlegte.
# Enige besluit om meer grond toe te wys vir klimaatsverligting moet ook die mededingende behoefte aan langtermyn voedselsekerheid en ekostelselgesondheid in ag neem. Dit blyk uit ‘n studie in die tydskrif Frontiers in Environmental Science. Die studie gee ‘n volledige ontleding van mededingende grondgebruik en tegnologie-moontlikhede om aardverwarming te beperk to 1,5-grade Celsius. Die hoofopsteller, Angelo Gurgel, sê daar is genoeg grond vir ‘n 1,5-grade-toekoms, mits doeltreffende beleid op nasionale en globale vlakke van krag is.
# En ten slotte: Sewentig lande is nie op koers vir 1,5-grade Celsius nie, gegrond op 2030 nasionale beloftes oor die sny van uitlatings. So lui ‘n verslag deur die Assessing Sovereign Climate-related Opportunities and Risks-projek. Net 16-persent van die 70 lande waarna gekyk is, het ‘n deursigtige en geloofwaardige verbintenis om fossielbrandstofsubsidies uit te faseer. Die verslag toon ook dat 81-persent van die ryk lande nie hulle eweredige deel tot die internasionale klimaatbefondsingsdoelwit bydra nie. Die lande wat beoordeel is is verantwoordelik vir 85-persent van die globale kweekhuisgas-uitlatings.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….