Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 21 November 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, sê die wêreldwye vraag na groen waterstof bied talle geleenthede – nie net vir Suid-Afrika nie maar ook vir ander Afrikalande. Die vraag na skoon waterstof sal na verwagting teen 2050 met tussen 125-miljoen en 585-miljoen metrieke ton toeneem. Die meeste waterstof word in die chemiese en suiweringsektore gebruik en word steeds grootliks deur fossielbrandstof verkry. Tau sê groen waterstof bied die geleentheid om natuurlike hulpbronne soos sonskyn en wind uit te voer en Suid-Afrika het ‘n oorvloed daarvan.
# Die Wes-Kaapse regering saam met CapeNature takel besoedeling deur plastiek wat net een maal gebruik word, met ʼn omvattende benadering om afval te verminder en bewustheid te skep. Besoekers aan CapeNature se reservate word aangemoedig om rommel te verminder deur deel te wees van die Don’tBeTrashy-veldtog. Dié jaarlikse veldtog wat elke September aangebied word, beklemtoon die gevolge van rommelstrooi en moedig beter gewoontes aan. ʼn DA-woordvoerder in die Wes-Kaap, Dave Bryant, sê CapeNature stel ʼn voorbeeld van volhoubare omgewingsbestuur:
# En ‘n studie deur die Max Planck-Instituut vir Chemie waarsku dat jaarlikse sterftes weens lugbesoedeling en uiterste temperature teen 2100 dertig-miljoen kan bereik. Die data wat in Nature Communications gepubliseer is, toon dat besoedelingverwante sterftes na raming vyfvoudig sal toeneem terwyl temperatuurverwante sterftes sewevoudig sal styg, veral in Suid- en Oos-Asië. In hoë-inkomste streke sal temperatuurverwante sterftes na verwagting dié van besoedeling verbysteek. Die instituut sê die bevindings benadruk die dringende behoefte aan globale verminderingspogings om die toenemende openbare gesondheidsgevare die hoof te bied.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….