Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 14 November 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die Global Carbon Project se verslag waarsku besoedeling deur olie, steenkool en gas, asook vrystellings weens ontbossing, maak klimaatsdoelwitte onhaalbaar. Wêreldwye fossielbrandstof-vrystellings sal na verwagting in 2024 ‘n rekord van 37,4-miljard metrieke ton bereik. Dis 0,8-persent hoër as verlede jaar en kenners meen dit plaas ʼn demper op hoop dat dit sal afneem. Terwyl vrystellings in Amerika en Europa na verwagting sal afneem, neem dit in die res van die wêreld toe, en veral in Indië.
# Die jongste damstatistiek toon die vlakke van die Wes-Kaap se ses grootste damme staan op 99,4-persent. Dit is effens meer as verlede week se 99,2-persent en meer as die 98,2-persent van dieselfde tyd verlede jaar. Die Theewaterskloofdam, wat meer as die helfte van die provinsie se watervermoë het, staan op 99,3-persent, terwyl Voëlvlei se vlak 101,7-persent is. Die verhoogde winterreënval het vlakke opgestoot ondanks die warm weer wat sedertdien ingetree het. Die Stad Kaapstad herinner inwoners steeds aan die belangrikheid van waterbesparing ná die bedreiging van Dag Zero.
# En ten slotte: Afrika se getal woud- en savanna-olifante het die afgelope 50 jaar met onderskeidelik 90- en 70-persent afgeneem. Dit is volgens navorsing wat in die vaktydskrif, Proceedings of the National Academy of Science, gepubliseer is. Die studie het data gebruik van 475 bevolkingsopnames wat tussen 1964 en 2016 in 37 lande gedoen is. Doktor Dave Balfour van die Nelson Mandela Universiteit, wat een van die medeskrywers van die navorsing was, sê die afname word toegeskryf aan stroping vir ivoor, verlies aan natuurlike habitat weens landbou-uitbreiding, en fragmentasie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….