Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 11 November 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Daar was ‘n geleidelike opwaartse neiging in die koste van uiterste weerstoestande tussen 2014 en 2023, met ‘n vinnige oplewing in 2017 toe ‘n oor-aktiewe orkaanseisoen Noord-Amerika geteister het. Dit blyk uit ‘n verslag waarvoor opdrag gegee is deur die Internasionale Sakekamer. Die verslag, wat vier-duisend klimaatsverwante uiterste weerstoestande ontleed het, het bevind ekonomiese skade het, net oor die afgelope twee jaar, opgeskiet na sewe-duisend-miljard-rand. Die sekretaris generaal van die kamer, John Denton, sê data toon beslis klimaatsverandering is nie ‘n probleem wat net in die toekoms wag nie.
# Suid-Afrika het volgens berigte ‘n aansienlike tekort aan die nodige talent vir die oorgang van steenkool na hernubare energie. Multinasionale korporasies het te min opgeleide tegnici en ingenieurs om grootskaalse wind- en sonkragplase op te rig en te onderhou. Volgens ʼn navorser verbonde aan die Universiteit van Pretoria, Sean Kruger, moet die groentalent-poel teen 2050 verdubbel as die wêreld wil wegbeweeg van fossielbrandstof. Hy sê in sy artikel in The Conversation ʼn strategie om groen talent te ontwikkel is noodsaaklik om Suid-Afrika se groen ekonomie te bevorder.
# En ten slotte: Die Wes-Kaap se binnelandse waterbronne gaan agteruit, wat aansienlike risiko’s inhou vir ekologiese reservate en landbouproduksie. So sê die provinsiale regering se Omgewingsvooruitsigverslag, wat die stand van waterbronne, waterbeskikbaarheid en ekologiese stelsels beoordeel het. ‘n Navorser van die provinsiale Departement van Omgewingsake Francini van Staden sê ‘n sleutelbevinding in die verslag is dat terwyl die bestuur van die Wes-Kaapse waterstelsels verbeter het, het die hoë vraag na water en verskeie langtermyn watergehaltekwessies in onlangse jare vererger.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….