Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 8 November 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die adjunkminister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Sihle Zikalala, vra vernuwende konstruksie-oplossings om op klimaatsverandering te reageer. Hy sê die onlangse ineenstorting van infrastruktuur weens oorstromings het onthul dat nuwe boumetodes en infrastruktuur-instandhouding nodig is. Die oorstromings in 2022 het meer as 400 mense se dood veroorsaak en skade van miljarde rand aangerig in provinsies soos die Wes- en die Oos-Kaap. Zikalala waarsku baie Afrikalande kan ekonomiese insinkings beleef as klimaatsverandering nie hanteer word nie.
# ‘n Keniaanse hof het ‘n saak verwerp wat die regering se omkeer van ‘n verbod op geneties-aangepaste gewasse uitdaag, wat dit moontlik maak om dit openlik te verbou. Die Oos-Afrika-land het ‘n dekade lange verbod op geneties-aangepaste gewasse in Oktober 2022 opgehef, maar die besluit is die onderwerp van hofgedinge en verset deur verbruikers- en bioverskeidenheidsgroepe. Die jongste uitspraak is die tweede keer dat die Hooggeregshof ‘n saak verwerp wat daarop gemik is om geneties-aangepaste gewasse te verbied.
# En ‘n verwoestende veldbrand woed in die Ventura-distrik in die suide van die Amerikaanse staat Kalifornië. Meer as 14-duisend inwoners moes hul huise ontruim terwyl stormsterk wind en droë toestande die vlamme aanblaas. Sowat drie-duisend-500 wonings en sakeondernemings word bedreig. Rooivlagwaarskuwings oor gevaarlike weerstoestande raak meer as 18-miljoen mense, insluitend in die Los Angeles-gebied. Ventura se brandweerhoof, Trevor Johnson, sê meer as 800 brandbestryders en 58 brandweervoertuie is ontplooi:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….