Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 4 November 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die adjunkminister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Narend Singh, en Chili se adjunkminister van Buitelandse Sake, Claudia Sanhueza, onderteken vandag in Pretoria ‘n ooreenkoms van verstandhouding oor visserye en akwakultuur. Dit gee formeel erkenning aan ‘n samewerkende raamwerk oor die bestuur van mariene bronne, navorsing, tegnologie-uitruiling en die stryd teen onwettige, onaangemelde en ongereguleerde vissery. Die ooreenkoms sal bilaterale betrekkinge versterk en pogings vir volhoubare visserybestuur en akwakultuurvernuwing bevorder.
# CapeNature het tussen April 2023 en Maart vanjaar op 89 veldbrande gereageer, met sowat 73-duisend-670 hektaar wat afgebrand het. Die organisasie kon 54-persent van die brande onder beheer bring. Mense het altesaam 55-persent van die brande veroorsaak deur nalatigheid of doelbewuste bedrywighede soos braai of vuurwerke. Veertien-persent het natuurlik ontstaan terwyl 12-persent die gevolg was van meganiese operasies. CapeNature se uitvoerende hoof, Ashley Naidoo, sê met die warm, droë weer wat op hande is, moet inwoners waaksaam wees.
# En ten slotte: Die Verenigde Nasies se 16de konferensie oor Biologiese Verskeidenheid in Colombië het geëindig te midde van meningsverskille oor ‘n toekomsplan vir globale bioverskeidenheids-befondsing. Lande het gehoop om vordering te maak oor noodsaaklike teikens soos die beskerming van 30-persent van die aarde en die hervorming van die globale finansiële stelsel wat die omgewing skade berokken. Regerings kon nie saamstem oor befondsing en hoe die dekade se teikens gemonitor sal word nie. ‘n Ooreenkoms is wel bereik oor die moontlike skepping van die wêreld se grootse bioverskeidenheids-bewaringsfonds.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….