Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 23 Oktober 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die Msenge Emoyeni-windplaas in die Oos-Kaap het Suid-Afrika se eerste onafhanklike kragprodusent geword wat windtegnologie gebruik en krag aan ‘n privaat verspreider verkoop . Die windplaas van 69-megawatt verkoop sy krag aan die petrochemiese reus Sasol. Msenge Emoyeni is ontwikkel deur ‘n konsortium onder leiding van African Clean Energy Developments en bestaan uit 16 turbines met ‘n opwekkingsvermoë van 4,5-megawatt elk. Hy het ‘n ooreenkoms om krag vir 20-jaar aan Sasol te verkoop.
# Sonkrag gaan ‘n belangrike rol speel om volhoubare langtermynoplossings vir Suid-Afrika te verseker. Dit geld nie net vir energiesekerheid nie, maar ook om die uitwerking van klimaatsverandering te bekamp. Dit is volgens die sonkragenergie-maatskappy, GoSolr, se Light Paper-verslag vir die derde kwartaal. Suid-Afrika is verantwoordelik vir sowat 30-persent van die totale koolstofvrystellings in Afrika. Die uitvoerende hoof, Andrew Middleton, sê om die netto-zero-doelwitte teen 2050 te bereik, moet Suid-Afrika sy hernubare bronne afwissel, die netwerk desentraliseer en demokratiseer.
# En ten slotte: Die DA in Gauteng sê hulle het tydens ‘n toesigbesoek aan die Jukskeirivier in Morninghill, Ekurhuleni, gevind dat groot hoeveelhede rou riool in die rivier invloei. Leanne de Jager van die party sê hulle het ook groot hoeveelhede slik gesien wat in die rigting van die keermuur spoel en in die Jukskeirivier en deur verskeie woonbuurte in Ekurhuleni na Alexandra in Johannesburg vloei. Sy sê dit hou ‘n ernstige gesondheidsgevaar in vir inwoners:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….