Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 22 Oktober 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Business Leadership South Africa het die plaaslike motorbedryf aangemoedig om oor te skakel na skoner brandstof, veral elektriese voertuie, om boetes van die Europese Unie se koolstof-grensaanpassingsmeganisme te vermy. Die EU se komende meganisme sal tariewe toepas op invoere met hoë koolstofuitstralings, wat ‘n invloed kan hê op plaaslike motorvervaardigers wat na die EU uitvoer. Die organisasie se uitvoerende hoof, Busi Mavuso, het in haar weeklikse nuusbrief die behoefte beklemtoon dat die bedryf by hierdie omgewingstandaarde moet aanpas om mededingend te bly en finansiële boetes te vermy.
# Die klimaatafgevaardigde in die kantoor van die Keniaanse president, Ali Mohamed, sê veeteelt moet gesien word as deel van die stryd teen klimaat- en omgewingskrisisse. Die veesektor verteenwoordig 30- tot 40-persent van die totale bruto binnelandse produk in Afrika. Mohamed sê in ‘n meningsartikel vir Aljazeera verbeterde landbougrondbestuur en die aanvaarding van klimaatslim-voerpraktyke kan vee-verwante uitlatings aansienlik verminder. Hy voeg by die integrasie van klimaat-bestande voer in weidingstelsels sal produktiwiteit en omgewingsuitkomste verbeter.
# En ten slotte: Kenners waarsku die mensdom gaan binnekort die aarde se natuurlike grense oorskry, en dringende optrede is nodig. Natuurlewe-bevolkings het sedert 1970 met gemiddeld 73-persent gedaal. Wetenskaplikes sê as dié verlies aan bioverskeidenheid voortduur, kan krisisse soos voedseltekorte en ekologiese ineenstorting volg. Die Verenigde Nasies se Cop16-bioverskeidenheidsberaad vind hierdie week in Colombië plaas. Wetenskaplikes sê die bioverskeidenheidskrisis moet net so dringend soos die klimaatskrisis hanteer word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….