Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 17 Oktober 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die Presidensiële Klimaatskommissie hou vandag sy tweede openbare bespreking oor Suid-Afrika se Klimaatsveranderingsreaksiefonds in Rosebank, Johannesburg. President Cyril Ramaphosa het vroeër vanjaar die stigting van die fonds aangekondig, met die doel om die ernstige gevolge van aardverwarming en klimaatsverandering teen te werk. Die kommissie sê hulle sal Suid-Afrika se klimaatsaanpassing-befondsingsgaping bespreek, en die publiek en privaat beleggers aanmoedig om die land se veerkragtigheid teen die toenemende uitwerking van klimaatsverandering te verbeter.
# Die Stad Kaapstad nooi moontlike bieërs uit om aansoek te doen vir sy eerste battery-stelsel om energie te berg. Amptenare het verlede week ‘n sooispit-seremonie gehou op die perseel van die fotovoltaïese sonkrag-aanleg van sewe tot tien megawatt in Atlantis. Bieërs wat belangstel, word aangemoedig om hul aansoeke teen 20 November in te dien. Die burgemeesterskomiteelid vir Energie, Xanthea Limberg, sê battery-stelsels raak toenemend belangrik soos meer hernubare energie by die netwerk gevoeg word:
# En ten slotte: Bewaringsgesindes het minstens agt spesies vlermuise gevind in ʼn reeks uitgediende steenkoolmyne in die Engelse graafskap Yorkshire. Die vlermuise gebruik die mynskagte en omliggende heuwels naby Barnsley vir paring gedurende die herfs. Vlermuiswyfies kry net een kleintjie per jaar en swerming is van deurslaggewende belang vir die beveiliging van die volgende geslag vlermuise. Bewaringsgesindes sê dis belangrik om sulke projekte te monitor omdat vlermuise as ‘n groep ‘n uitstekende aanduiding gee van die algemene welstand in hulle ekostelsel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….