Eko-minuut 13:30
BULLETIN 7 Augustus 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die Presidensiële Klimaatkommissie het met die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, vergader om Suid-Afrika se hersiene nasionaal-bepaalde bydrae te bespreek. Die hersiening, wat onlangs deur die kabinet goedgekeur is, is nou oop vir openbare kommentaar voor die voorlegging aan die Verenigde Nasies in Oktober. Die bydrae strek vanaf 2031 tot ’35 en beoog meer dringende klimaats-optrede. Die kommissie moedig alle belanghebbendes aan om deel te neem aan die besprekings om inklusiewe insette te verseker vir die land se klimaat-veerkragtige, lae-koolstof-ekonomie.
# Dele van Australië se Groot Koraalrif toon die grootste jaarlikse afname in koraalbedekking sedert rekords byna 40-jaar gelede begin het. Volgens ‘n verslag deur die land se Instituut vir Marienewetenskap toon die noordelike en suidelike dele van die uitgestrekte rif albei hul ergste koraalbleiking ooit. Bleiking vind plaas wanneer koraal onder druk geplaas en wit word omdat die water te warm is. Koraal is noodsaaklik vir die planeet. Dit word die see se argitek genoem en bou reuse-strukture wat na raming 25-persent van alle mariene-spesies huisves.
# En die Europese Kommissie wil hê die Wêreld-plastiekverdrag moet die hele lewensiklus van plastiek dek – van vervaardiging tot die vullishouer. Afgevaardigdes van meer as 100 lande vergader hierdie week in Genève, Switserland, om te beraadslaag oor ‘n wetlik-bindende verdrag om plastiekbesoedeling te bekamp. Wêreldwyd word 400-miljoen ton plastiek jaarliks vervaardig, maar slegs nege-persent word herwin. Die Europese Unie sê die verdrag moet ook maatreëls insluit om skadelike plastiekprodukte uit te faseer wat mense se gesondheid en die omgewing bedreig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….