Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 8 Oktober 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, het die eerste sooi gespit by die sewe-tot-tien-megawatt sonkragaanleg in Atlantis. Kaapstad is die eerste metro in die land om sy eie sonkragaanleg op te rig ten einde sy energiebronne te diversifiseer en in die toekoms selfvoorsienend te wees. Hill-Lewis sê die bouwerk aan die projek van 200-miljoen-rand sal na verwagting sowat ‘n jaar neem, waarna hulle die aanleg aan ‘n nabygeleë hoofsubstasie sal koppel om krag regstreeks in die netwerk in te voer:
# Die pasgekroonde Mej Aarde Suid-Afrika, Jessica Nel, sê sy is opgewonde om die land op die wêreldverhoog in die Filippyne te verteenwoordig. Die kompetisie vereer jong vroue wat ‘n groot uitwerking op omgewingsake en gemeenskapsprojekte het. Nel is ʼn sosialemedia-bestuurder by ʼn bemarkingsagentskap wat deur vroue gelei word. Sy is passievol oor diere en om afval in modehandel te bekamp. Nel sal op die internasionale Mej Aarde-kompetisie ʼn rok dra wat deur Long Beach Pearl gemaak is. Dis versier met 87 pêrels en edelstene wat vrede, volhoubaarheid en die aarde se sikliese natuur simboliseer.
# En ten slotte: Die orkaan Milton, wat Sondag van ʼn tropiese storm tot ʼn orkaan versterk het, sal die VSA na verwagting môre bereik. Die weerstelsel sal die Tampa Bay-gebied eerste bereik en vandaar na Orlando oorbeweeg. Florida se noodbestuursafdeling waarsku inwoners om vir die grootste ontruiming sedert Orkaan Irma in 2017 voor te berei. Meer as 200 mense is dood toe Orkaan Helene die suidooste van Amerika, insluitend gedeeltes van Florida, verlede maand getref het. Voorspellers verwag sommige gebiede kan weer deurloop en die skade van Helene vererger.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….