Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 3 Oktober 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Meer as 215 mense, insluitend 35 kinders, is dood en tientalle word vermis nadat swaar reën kitsvloede en grondstortings in Nepal veroorsaak het. Baie sterftes is in die digbevolkte hoofstad, Katmandoe, aangemeld. Unicef se woordvoerder, Florine Bos, sê toegang tot noodsaaklike hulpbronne soos vars water sal in die komende dae ‘n probleem wees. Sy sê wanneer die water gesak het, kan oordraagbare siektes soos knokkelkoors uitbreek:
# Die Universiteit van Kaapstad se sentrum vir bioproses-ingenieursnavorsing het ʼn eiesoortige projek geskep wat afval afbreek. Die Afval-Energie-Voedsel-Water Nexus-projek kan as noodbron gebruik word om kos te kook, of bruikbare water te voorsien wat later gebruik kan word om groentetuine op die kampus nat te lei. Die projek is deel van die universiteit se volhoubare kampus-veldtog. Die universiteit sê die projek sal volhoubare praktyke op kampus bevorder en eko-bewustheid verseker.
# En ten slotte: Studente aan die Universiteit van die Witwatersrand se Argitektuur- en Beplanningskool omskep afval in kuns. Hulle het ‘n tydelike struktuur, Alex Shed, gebou in samewerking met die Alexandra Water Warriors, en plaaslike kunstenaars van Stjwetla in Alexandra. Die skuiling is gebou met herwonne materiaal, waaronder meer as 300 blikke en plastiekbottels uit die Jukskeirivier, en lê klem op die voortdurende besoedeling van die rivier. Die projekkoördineerder, Paulo Moreira, sê die Alex Shed herinner mense dat skeppende, gemeenskapgedrewe projekte gesprekke kan uitlok oor omgewingslewensvatbaarheid en maatskaplike geregtigheid.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….