Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 13 September 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die Internasionale Arbeidsorganisasie sê regerings slaag nie daarin om die sterk potensiaal van maatskaplike beskerming in te span as teenvoeter vir die gevolge van die klimaatsveranderingskrisis nie. In sy verslag World Social Protection Report: Universal Social Protection for Climate Action and a Just Transition sê die organisasie 90-persent van mense leef sonder maatskaplike beskerming. Mia Seppo van die organisasie sê dié beskerming kan mense help om by klimaatverwante skokke aan te pas en daarmee saam te leef:
# Die burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro, Gary van Niekerk, sê daar is meer begrip nodig vir klimaatsverandering om die uitdagings wat dit bied te hanteer, insluitend oorstromings en droogtes. Hy het die 61ste konferensie van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Landbou-ekonomie in Gqberha toegespreek. Die konferensie was ondermeer gemik op die bevordering landbou-ekonomiese navorsing en onderrig. Van Niekerk sê klimaatsverandering is ‘n harde werklikheid wat mense daagliks in die gesig staar.
# En, wetenskaplikes wat die verspreiding van knokkelkoors navolg sê gewilde Europese vakansiebestemmings kan deur toekomstige uitbrekings getref word. Die siekte word gedra deur Asiese tiermuskiete, wat meer algemeen begin voorkom in Europa, in byvoorbeeld dele van die suide van Frankryk, Italië en Spanje. Knokkelkoors kan erge spier- en gewrigspyn veroorsaak en in sommige gevalle lei tot interne bloeding en die dood. Wetenskaplikes sê warmer weer weens klimaatsverandering skep gunstiger toestande vir indringermuskiete om te versprei na gebiede wat nie voorheen geraak is nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….