Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 12 September 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die Wêreldklimaatsorganisasie sê daar is ‘n 60-persent kans dat ‘n La Niña-toestand teen die einde van die jaar sy verskyning gaan maak. La Niña verwys na die grootskaalse afkoeling van oseaan-oppervlak-temperature in die sentraal- en oostelike ewenaarsgedeelte van die Stille Oseaan, gekoppel aan veranderings in die tropiese atmosferiese sirkulasie. Celeste Saulo van die organisasie sê die afgelope nege jaar was die warmste ooit op rekord, selfs met die afkoelingsinvloed van verskeie La Niña verskynsels van 2020 tot vroeg verlede jaar.
# Die European Investment Bank Global het sy eerste streeksentrum in die Menlyn Maine-buurt in Pretoria bekendgestel om beleggings in Suider-Afrika en die Indiese Oseaan te bevorder. Die sentrum sal skoon energie, werksgeleenthede en volhoubare groei ondersteun in 14 lande, insluitend Suid-Afrika. Die bank se visepresident, Ambroise Fayolle, het die sentrum se rol in die finansiering van groen-oorgang en volhoubare ontwikkeling benadruk. Dis deel van die Europese Unie se Global Gateway-strategie wat op hernubare energie en infrastruktuurprojekte fokus. Die bank het reeds 164-miljard-rand in die streek belê.
# En ten slotte: Duisende mense is ontruim uit laagliggende gebiede in die Viëtnamese hoofstad, Hanoi, terwyl die Rooirivier sy hoogste vlak in twee dekades bereik. Teen gister het vloedwater in dele van die stad tot ‘n meter hoog gestyg, wat sommige inwoners gedwing het om in bote deur hulle buurte te beweeg. Die krag is afgesny na sommige distrikte weens kommer oor veiligheid, met tien van Hanoi se 30 administratiewe distrikte wat oor oorstromings gewaarsku word. Viëtnam ly onder die nagevolge van tifoon Yagi, wat minstens 179 lewens geëis het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….