Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 10 September 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die Europese Unie sal twee toelaes van altesaam 628-miljoen-rand beskikbaar stel om die volhoubare ontwikkeling van groen waterstof-waardekettings in Suid-Afrika te ondersteun. Dit is bykomend tot die EU se Billike Energie-oordrag-vennootskap met die land. Die EU se energiekommissaris, Kadri Simson, sê die befondsing toon die groepering se Global Gateway-strategie in aksie waar dit slim, skoon en veilige verbindings in die energie- en die vervoersektor bevorder:
# Die Vaalrivier is nou amptelik weer vir bote oopgestel nadat 398 hektaar van indringerplante, insluitend waterslaai en waterhiasinte, verwyder is. Die oorgroeide rivier het sigbaarheid tot minder as ‘n hektaar verminder wat toerisme en bootbedrywighede ontwrig het. Plaaslike owerhede, gemeenskapsgroepe en Rand Water het saam gewerk aan die projek van tien-miljoen-rand. Die heropening bring verligting vir die Vaal se gasvryheidsbedryf en die lente-seilbootseisoen.
# En MTN in die Wes-Kaap werk saam met Green Riders om ekovriendelike aflewering te bevorder deur e-fietse te gebruik. ‘n E-fiets spaar elke kilometer gemiddeld 249-gram koolstof-vrystelling. Green Riders se doelwit is om oor die volgende vyf jaar 50-duisend werksgeleenthede in die afleweringsektor te skep. MTN wil op sy beurt teen 2040 geen koolstofvrystellings hê nie. Green Riders se stigter, Craig Atkinson, sê hierdie vennootskap beklemtoon omgewingsverantwoordelikheid terwyl dit erkenning gee aan die sake-waarde van e-fietse.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….