Eko-minuut 13:30
BULLETIN 9 September 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Gauteng is nou Suid-Afrika se besoedelingsbrandpunt, en die land se luggehalte het sedert 2017 verswak. Dit is volgens ‘n verslag van die nasionale luggehaltebeampte, Patience Gwaze. Die verslag toon Gauteng het verlede jaar net 100 dae skoon lug gehad, gevolg deur Mpumalanga met 150 tot 200 dae. Gwaze sê besoedelde lug wat uit Mpumalanga beweeg, is een van die faktore wat bydra tot Gauteng se lugbesoedeling. Sy sê die verslag kan onakkuraat wees weens ʼn gebrek aan moniteringstoerusting in sommige provinsies.
# Die Nuwe Ontwikkelingsbank het Eskom se lening van nagenoeg 8,5-miljard rand vir die verlaging van swaeldioksiedvlakke by die Medupi-kragstasie in Limpopo gekanselleer. Die lening is in Maart 2019 goedgekeur vir die finansiering van tegnologie vir die verwydering van swael uit die aanleg se rookgas. Die bank se prosesse behels dat geld aan ander beleggings hertoegewys moet word indien die projek tot stilstand kom. Eskom het aan News24 gesê die aansoek vir die kapitaaluitgawe, interne besprekings, omsigtigheidsondersoeke en goedkeurings het langer geneem as wat verwag is.
# En ten slotte, hierdie week is SA Nasionale Parkeweek, ‘n geleentheid vir mense om die meeste van die land se nasionale parke gratis te besoek. Die eerste SANParke-week is in 2006 gehou en was daarop gemik om die Suid-Afrikaanse nasionale parkestelsel aan die wêreldwye nasionale beweging te koppel. SANParke sê hy gebruik hierdie week om ‘n gevoel van trots te kweek in die land se natuurlike, kulturele en geskiedkundige erfenis, wat hy beskerm.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….